A poem about perfection in imperfection.
As ek ooit 'n sneeuman word
Maak dan seker dat ek smelt
Dat ek kan vloei tot in die see
Dat ek verdamp tot dit weer reën
As ek ooit 'n kaart moet wees
Maak dan seker dat ek moeilik lees
Dat reisigers deur my verdwaal
Die vreugdes leer van swerwer wees
As ek ooit 'n plafon moet wees
Maak dan seker ek is vol gate
Sodat mense nat kan reën
Na sterre kan kyk in die aande
As ek ooit 'n ligtoring word
Maak dan seker ek is eensaam
Dat my strale uit kan staan
Teen matrose se donker aand
As ek bloot 'n mens moet wees
Laat ek aanhou dwaal en beweeg
As ek dan 'n mens moet wees
Dan is dit so
Dan is dit so